Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 15 JANUARIE 2017

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuusbulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.

‘n Oudioopname sowel as ‘n teksweergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL LÊ VERDERE DOKUMENTASIE VOOR AANGAANDE TIPE GOEDKEURING

SDR WERKSWINKEL OP 18 FEBRUARIE

RAE BEURSE

EN

DIE PEARS NASIONALE BHF/UHF KOMPETISIE HIERDIE KOMENDE NAWEEK

** Die SARL het verdere dokumentasie in verband met tipe goedkeuring aan OKOSA voorgelê. Hierdie voorlegging volg op die besprekings wat laas maand tydens die openbare verhoor plaasgevind het. Die SARL hou vol dat toerusting wat deur ‘n amateur gebou word om sy of haar stokperdjie te bevorder, vrygestel moet wees van enige tipe goedkeuring vereistes. Waar kommersiële toerusting betrokke is, stel die SARL voor dat toerusting wat aan ETSI standaarde vir radio amateur toerusting voldoen en wat reeds deur die EU of FCC goedgekeur is, ook van enige verdere tipe goedkeuring in Suid Afrika vrygestel word.

** AMSAT SA sal, in samewerking met die SARL, op 18 Februarie 2017 ‘n half-dag SDR werkswinkel aanbied by die Nasionale Amateur Radio Sentrum. Hierdie is ‘n praktiese werkswinkel waartydens deelnemers ‘n BHF/UHF RTL dongel sal installeer en programmeer om ‘n BHF/UHF ontvanger te skep wat 24 MHz - 1.7 GHz sal dek. Die werkswinkel word deur Anton Janovsky ZR6AIC en Cor Rademeyer ZS6CR aangebied. Registreer voor 11 Februarie 2017. Inligting en registrasie vorm op www.amsatsa.org.za. Bespreek vroegtydig om teleurstelling te voorkom.

** Die Suid-Afrikaanse Amateur Radio Ontwikkelings Trust ken elke jaar twee beurse van R1,000 elk vir die Mei radio amateur eksamen toe. Die Tony Reumerman beurs program ken jaarliks 4 beurse toe aan studente wat onder 26 jaar oud is en beplan om die klas A eksamen te skryf. Twee beurse is beskikbaar vir die Mei eksamen en twee vir die Oktober eksamen. Vir meer besonderhede en aansoekvorms, gaan na www.amateurradio.org.za

** Die PEARS Nasionale BHF en UHF Kompetisie vind plaas hierdie komende naweek van 18:00 SAT op Vrydag 20 Januarie tot 14:00 SAT op Sondag 22 Januarie 2017. Ons is ingelig dat amateurs van al ses afdelings aktief sal wees tydens hierdie kompetisie. Dit sluit vir die eerste keer Afdeling 3 op die Weskus in asook Namibiese stasies. Veldstasies asook bewegende stasies, wat ‘n baie gewilde kategorie in die VSA is, wat vanaf hoë liggings sal werk sal die bande deur die dag lewendig hou deur Tropo Verbetering en moontlik ook Sporadiese-E voortplanting. Tropo Geleiding kan op sy beste wees vroeg in die oggend en snags veral op 144 MHz en dit kan baie lang-afstand kontakte moontlik maak. Wend asseblief ‘n poging aan om aan die kompetisie deel te neem, amateur radio te bevorder en dit meer opwindend te maak vir almal. Stekte met die kompetisie!

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Na al die sonvleklose dae is daar uiteindelik weer 'n sonvlek sigbaar. Die sonvlek is tans stabiel met bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie.

Diegene wat hul eie frekwensie voorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 17 vir die week gebruik.

Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30m bande verwag.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

14 - 15 Januarie – Hunting Lions in the Air
20 - 22 Januarie – PEARS Nasionale BHF/UHF Kompetisie
28 Januarie – Somer QRP Naelloop
5 Februarie – AWA CW Aktiwiteit
11 – 12 Februarie – SARL Nasionale Velddag
18 Februarie – SARL Jeug Naelloop
18 Februarie – SDR Werkswinkel

Om die bulletin mee af te sluit ‘n opsomming van ons hoofberig: Die SARL het verdere dokumentasie in verband met tipe goedkeuring aan OKOSA voorgelê. Hierdie voorlegging volg op die besprekings wat laas maand tydens die openbare verhoor plaasgevind het. Die SARL hou vol dat toerusting wat deur ‘n amateur gebou word om sy of haar stokperdjie te bevorder, vrygestel moet wees van enige tipe goedkeuring vereistes.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radio Liga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radio Liga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laersyband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radio Liga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuus span groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003